18/10/2026
🟠🔵 'N NUWE HOOFSTUK VIR DFC – WELKOM COACH BRANDON “HONEYBADGER” NEL! 🏉🔥
Met groot trots en opgewondenheid kondig Defence Force Collegians Rugby Football Club die aanstelling van Brandon “Honeybadger” Nel as ons nuwe hoofafrigter vir die 2027-seisoen aan!
Vir ons as klub is hierdie nie sommer net nog 'n aanstelling nie. Dis die begin van 'n nuwe hoofstuk, en ons is trots om iemand met Brandon se agtergrond, ervaring en passie vir rugby by die DFC-familie te verwelkom.
VAN DIE WEERMAG TOT LANGS DIE RUGBYVELD! 💪
Brandon is in die Wes-Kaap gebore en het op verskeie plekke in die Kaap, insluitend die Karoo, grootgeword.
Hy het 28 jaar van sy lewe aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANDF) gewy, waar hy tot die rang van Luitenant-kolonel gevorder het.
Vandag is hy die Operasionele Bestuurder by Upington Ground Handling Company op die lughawe.
Maar agter die militêre uniform en die indrukwekkende loopbaan is daar 'n man met 'n groot liefde vir rugby, mense en die ontwikkeling van spelers.
🎓 MEER AS NET 'N RUGBYMAN
Brandon beskik oor 'n Bachelor of Business Administration (BBA), 'n sertifikaat in Education, Training and Development en verskeie ander akademiese kwalifikasies. Hy is tans ook besig met verdere nagraadse regstudies.
As 'n gekwalifiseerde militêre Fisieke Opleidingsinstrukteur verstaan hy die waarde van harde werk, goeie voorbereiding en dissipline.
En dit is juis hierdie waardes wat ons graag verder binne DFC wil vestig.
🏉 RUGBY IS IN SY BLOED!
Deur die jare het Brandon die voorreg gehad om rugby op verskeie vlakke te speel en verskillende spanne te verteenwoordig.
Sy rugby-CV sluit onder andere die volgende in:
🏉 Western Province Defence Force
🏉 Valke District / Onder-23
🏉 Northern Transvaal District
🏉 Limpopo Defence Force
🏉 Northern Cape Defence Force
🏉 Van Druten District
🏉 SANDF Senior Span
🏉 SANDF Development Span
🏉 SA Forces Development (CISM)
🏉 SANDF Bilaterale Spele in Botswana
Hy het ook vir verskeie rugbyklubs uitgedraf, onder andere Bridgton RFC in die Premierliga.
Dis jare se rugbyervaring, op en van die veld af, wat hy nou saam met hom na DFC bring.
🏆 HY WEET WAT DIT VAT OM TE WEN!
Brandon is ook geen vreemdeling vir afrigting nie.
Hy het beide die Noord-Kaapse Weermag se mans- en vrouerugbyspanne afgerig en het die mansspan na 'n kampioenskapsoorwinning tydens die SANDF-kampioenskappe gelei.
Sy betrokkenheid by rugby strek ook tot skeidsregterskap, waar hy verskeie afrigtings- en skeidsregterskursusse voltooi het.
Een van sy hoogtepunte was om 'n wedstryd tussen die SANDF en Lesotho tydens die Bilaterale Spele in Lesotho te hanteer.
Hy het ook verskeie skool-, klub- en toernooiwedstryde, insluitend Wildeklawer, behartig en was betrokke by 'n wedstryd tussen Sishen Rugbyklub en die SA Legends.
🟠🔵 MAAR WAT BETEKEN HIERDIE AANSTELLING VIR DFC?
Ons klub is in 2017 gebou op 'n droom, 'n liefde vir rugby en die geloof dat ons saam iets besonders kan bereik.
Oor die jare het ons gegroei, baie geleer, oorwinnings gevier en ook moeilike tye deurgemaak. Maar deur alles het een ding dieselfde gebly: ons liefde vir hierdie klub en die mense wat die DFC-kleure dra.
Ons is trots op wat ons reeds opgebou het, maar ons weet ook dat daar nog baie werk voorlê en dat ons as klub moet aanhou groei.
Daarom is ons opgewonde oor wat Brandon na DFC kan bring.
Ons soek nie net rugbyspelers wat Saterdae wedstryde kan wen nie. Ons wil jong manne ontwikkel wat verantwoordelikheid neem, dissipline verstaan, mekaar respekteer en trots is op die kenteken op hulle bors.
En ons glo Coach Brandon kan 'n belangrike rol daarin speel.
COACH HONEYBADGER, WELKOM BY DIE BRAVEONES! 🧡💙
Brandon, namens die bestuur, spelers, ondersteuners en die hele DFC-familie wil ons jou hartlik welkom heet.
Dankie dat jy bereid is om jou kennis, ervaring en tyd in ons klub en ons spelers te belê.
Ons weet daar lê harde werk voor. Daar gaan uitdagings wees, daar gaan opofferings wees en niks gaan verniet kom nie.
Maar ons sien uit daarna om saam met jou te werk, saam te bou en hierdie klub na nuwe hoogtes te neem.
2027 gaan oor meer as net 'n nuwe seisoen. Dit gaan oor groei, nuwe geleenthede en die volgende hoofstuk in DFC se storie.
En daardie storie skryf ons saam! 🏉🔥
NEW ERA. SAME BROTHERHOOD. ONE DFC.
🟠🔵 WE ALL WE GOT, WE ALL WE NEED!
🧡💙