20/10/2026
Kragte gemeet op Kloovenburg W**e and Olive Estate in KloovX
Die bekende Kloovenburg-landgoed verruil op Saterdag 31 Oktober sy gewone pas vir ’n ander soort energie wanneer die eerste KloovX aangebied word. Dié hybrid fiksheidswedren kombineer hardloop en funksionele oefeninge in ’n spanformaat, met die Swartlandse landskap as deel van die uitdaging.
KloovX word deur die Malmesbury gimnasium, Time2Train, in samewerking met die Du Toit-familie van Kloovenburg aangebied. Die geleentheid bring deelnemers, ondersteuners en gesinne bymekaar vir ’n dag waar sport en die plaas se gasvryheid ewe veel deel van die ervaring is.
Die kompetisie bestaan uit sewe hardloopgedeeltes van 700 meter elk, afgewissel met sewe funksionele oefenstasies. Deelnemers skryf in spanne van twee in, met afdelings vir mans-, vroue- en gemengde spanne. Spanmaats voltooi die hardloopgedeeltes saam en verdeel die werk by die oefenstasies volgens die wedrenreëls.
Krag en uithouvermoë tel, maar so ook tempobeheer, kommunikasie en hoe goed ’n span saamwerk.
“Ons wou ’n kompetisie skep waarvoor mense doelgerig kan oefen, maar waar die ervaring verder strek as hul eindtyd,” sê Lize Burns, mede-eienaar van Time2Train en mede-organiseerder van KloovX. “Daar is iets besonders daaraan om ’n uitdaging saam met ’n spanmaat aan te pak, met jou mense langs die baan. Kloovenburg gee ons die ruimte om daardie sportervaring met ’n lekker dag op die plaas te kombineer.”
Johan du Toit van Kloovenburg sê die geleentheid bring twee van die familie se groot belangstellings bymekaar: Sport en mense.
“Sport is ’n groot deel van ons familie se lewe en ons geniet dit om mense hier op die plaas te verwelkom. KloovX bring dié twee dinge bymekaar. Ons sien uit daarna om die deelnemers en hul ondersteuners by Kloovenburg te ontvang en hoop dat hulle ná die wedren sal aanbly om die dag saam met ons te geniet.”
Ondersteuners en gesinne kan die aksie volg en die dag by Kringe in die Bos geniet, waar kos en drankies beskikbaar sal wees.
Die eerste wegspring is om 07:00 en inskrywings is beperk tot 120 spanne. Deelname kos R1 200 per span van twee
Inskrywings en verdere inligting:
https://time2train.co.za/kloovx