SV Northern Light

SV Northern Light We hope to share our experiences, to inspire more conscious living, to have fun whilst doing good. N

It's been a while dear Mainlanders, but we're back at sea.  Left Cape Town on Sunday 17 December.  Destination St Helena...
23/12/2023

It's been a while dear Mainlanders, but we're back at sea. Left Cape Town on Sunday 17 December. Destination St Helena, for now...
You'll be able to follow us on the following Predictwind link.

Die son sal weer skyn
26/03/2020

Die son sal weer skyn

26/03/2020

Ahoy Mainlanders!

Northern Light Grootte: 14m X 4m - Ruim dubbel garage😉
Cape2Rio Tyd: 27 dae
Aantal persone: 6
Rio2Cape Tyd: 25 dae
Aantal persone: 4

Aantal besoeke aan 'n winkel: 0
Aantal skelm draffies: 0

Moeilikheidsgraad: Nie vir sissies nie. En Suid-Afrikaners is nie sissies nie!!!

Julle weet hoe erg ek was oor ons rommel beheer. 'n Prominente persoon het gesê blikke en bottels kan in die see. Een verroes, die ander is natuurlik!!! Nou hoe sal die seebodem lyk?
As jy twyfel oor die reëls, vra jouself: Wat as almal dit doen...?

Tydelik is beter as dodelik. Vasbyt!!! tuis

Groetnis
Mainlander Magriet

Dit het begin so om en by 21:00 met 'n 'haze'.  Ons kom uit die suide, Houtbaai-Llandudno kant.  Stadsligte wat die wolk...
09/03/2020

Dit het begin so om en by 21:00 met 'n 'haze'. Ons kom uit die suide, Houtbaai-Llandudno kant. Stadsligte wat die wolke 'n skakering ligter as die skadu van die berg maak. Toe die eerste liggies wat duidelik nie visvangbote is nie... Ons was almal by tye net tjoepstil. In verwondering. Terug in tyd, by die 4de Januarie toe ons hierdie kus verlaat het. Presies nege weke vroeer, 58 dae ter see, bietjie maerder, bietjie ouer en bietjie wyser - ek d**k. Dit voel eienaardig.
En toe. Wat 'n wonderlike verassing. Reeds buite die marina het ons hulle gehoor... Die Kaapse swape op die kaai. Al aan't wag en kuier vanaf 22:00. Tailg*te party by RCYC. Hulle het ribs, wors, braaibroodjies, bier en wyn Mainlander. My oë was bietjie wasig, effe natterig van blydskap. Wouter en Nadine, Phillippie en Carin. Sjoe maats, BAIE BAIE dankie. En Pa Piet en John, 23:00 gery uit Veldrif om daar te wees. Ongelooflik. Dis 03:19 Sat 7 Maart - die perfekte einde.
Dankie aan almal wat ons ondersteun het in hierdie Rollercoaster avontuur. Liezel, jou toewyding met die skrywe. Ek waardeer dit opreg.
Dis heerlik om terug te wees. Pa Piet vra my of dit lekker was en ek kan opreg sê: Nee, ek sal dit beslis nie as lekker beskryf nie. Dit was 'n avontuur; uitdagend fisies en verstandelik. Ek is dankbaar dat daar geen ernstige beserings was nie. Bumped and bruised, dis al. Ek voel bevoorreg om dit te kon doen. Om so baie te kon leer. Ek sal weer die oseaan kruis ja, maar hopelik nooit weer twee keer in twee maande nie.
Nou gaan ek eers met die honde stap. Ek kan steeds nie oor hierdie vryheid kom nie. Slaap solank jy wil. Stap waar jy wil. Al die spasie.
Oe, en ek het gedruk en gedruk, die honde lag en lek net natter.

Span Noorderlig uit

PS Nadine is die Voet-Aan-Wal kompetisie wenner. Sy hou vol sy deel met niemand.😁

Ahoy Mainlander! O wee, die viskoek.  Ek het hom gemaak.  Lieflike geure met vars gerasperde gemmer, chilli en lemmetjie...
06/03/2020

Ahoy Mainlander!

O wee, die viskoek. Ek het hom gemaak. Lieflike geure met vars gerasperde gemmer, chilli en lemmetjie. Vars kruie: Ons arme pietersielie en koljander plante geplunder. Ek moet vir julle vertel van ons Brasiliaanse chilli plant. Gekoop by 'n straatmark in Rio met 'n klomp chillies aan. Ons het nog net een chilli oor, maar die plant is alweer oortrek met die blommetjies. Ons kan nog seil…??? Ek het julle viskoekraad te laat ontvang en dankie, maar nee Moeder, ons het ook nie bakpoeier aan boord nie. Elk geval, my mengsel met falafel mix het uitmekaar geval. Dit was ook heeltemal te veel, so vanaand maak ek hom sommer weer. Op Liezel se manier gedip in 'n dun meelmengsel. Die aartappels is ook nou op, Liezel. Sy reken al wat 'n viskoek nodig het is iets om die spulletjie bymekaar te hou - soos 'n goeie bra…
Ons het natuurlik nie 'n druppel olie oor aan boord nie, maar ek d**k ons blikkies makriel bevat sonneblomolie 😏.

Ons het deur die nag lekker wind gehad en seil nou met Osaka, Rolfok en die Duitser (Foto aangeheg. Genoem van voor na agter). Ons jaag om so naby as moontlik aan Mainland te kom. Al die voorspellings dui op een groot blou g*t met zero wind vanaf middagete. Ek reken so 7 knope bootspoed gemiddeld deur die nag. Dit gaan ons egter nie help met Voet-aan-wal-sit vandag nie, liewe Mainlander. Kyk hoe g*tvol lyk daai skipper! Ek d**k Nadine en Wouter se skaaptjop en MEYBRU was meer wat hy in gedagte gehad het as my flopviskoek. Sal hom 'n groot sluk Sailor Jerry rum gee om te troos. Ons bier is ook nou op. Wonder hoe rum en Game proe? Elk geval, nuwe V-A-W ETA: Saterdagoggend en ek weier om enige tyd te glo. What will be, will be.

Met die 23 knope wind en tussen 7 en 8 bootspoed, is die Trapsuutjie-45grade-suidoosterlampp**l-wesens weer aan't rondval.
Piet praat nou al 'n rukkie lank van "planking" as hy die heads besoek. Vanoggend soos ek uitsluip, sluip hy in vir nog 'n sessie. En toe kry ek 'n demonstrasie. Mainlander, hy piepie horisontaal. Voete vasgeskop teen die kassie op die een muur, hande soos vir 'n push-up teen die teenoorgestelde muur…

Ek sluit ook 'n foto in van Gordon se poging tot 'n eerste koppie koffie vir die dag. Al wat hy wou doen was om dit in die mikrogolf warm te maak en dan rustig buite te gaan sit en teug. Hy is nog steeds besig om oond en vloer te was… Al vloekend.🙃
En toe kom Alex. Wil graag warm Maltabella eet voor skof - sy lyk soos 'n seekat soos sy probeer oondrak, papbak en swell hanteer. Dis 'n treat om by die kaarttafel mense te sien wakker word, hoor.

Eileen, thanks for the Scout feedback. I am proud of them; the Baroness talked like a mother about them; the whole sail community at prize giving in Rio gave them the warmest welcome. I can easily imagine how you must feel and rightly so. The future is indeed looking bright.

UTC+2 10:00 Posisie: 34deg 44.775S 16deg 34.843E
Gem windspoed: 18knope
Afstand afgelê laaste 12 uur: 87nm (LW net 12 uur)
Afstand oor na RCYC, Kaapstad, Mainland, Homeland, Hartland: 105nm

Een, twee, drie VRYDAGGESIG Mainlander!!!!
Een ding is verseker. Ek gaan nie DIT weer post nie. HOOH-HAH
Dag 24 Span Noorderlig (nogsteeds net amper heeltemal) uit.

Ahoy Mainlander! Tienerskool vir geduld... Wietse van der Westhuizen, Liezel het laat weet jy vra wanneer ons arriveer. ...
05/03/2020

Ahoy Mainlander!

Tienerskool vir geduld...

Wietse van der Westhuizen, Liezel het laat weet jy vra wanneer ons arriveer. Sjoe, dis lekker dat jy ook lees.
Mainlander, hier is nou 'n man vir wie jy van deursettingsvermoë niks kan vertel nie. Hy tree jaar in en jaar uit aan op die wegspringstreep. Is dit al 25 keer? Maar hy help ook week in en week uit, tientalle nuwelinge (ek was een van hulle), om hul Comrades droom te verwesenlik. Mense ry van ver vir sy long runs. Altyd geopen met gebed, altyd perfek georganiseer, altyd sonder enige vergoeding vir homself. By uitstek 'n onbaatsugtige vasbyter met Job se Geduld.

Om jou vraag te beantwoord, Wietse. Ik weet niet meer. Ons gebruik Predictwind vir weervoorspellings. Daar is elke 6 uur 'n update. Ses ure terug was die ETA 12:30 Vrydagmiddag.
My Voet-Aan-Wal-tyd was Woensdagnag 23:50. Doenbaar, 'n bietjie meer as 'n week terug. Dis NOU Woensdagnag 23:05, Mainlander. Ek sit en skryf buite in die cockpit. Driehonderd-en-een-punt-nege seemyl van die eindpunt. Verveeld, flappende seile. Windspoed 3.1 knope - Predictwind het 12 knope voorspel… Bootspoed 3.1 knope - slegs te danke aan 'n een knoop seestroom.

Die pad huistoe is besaai met groot, blou, windlose g*te. Nuutse voorspelling dui op wind eers weer teen môre middagete. En dan weer niks vanaf Vrydag middagete. ETA 20:00 Vrydagaand. Hoe dit ook al sy. Ek sê vir Piet, Saterdag druk ek daai honde van ons tot hulle vir my k**r.

Kyk ek wil graag 'n vlieg teen die seil wees op Ciao Bella of Rotary Scout. 'n Tiener, dertig dae in 'n klein karavaantjie op die oop see? As daai jongklomp al hulle varkies op hok kon hou, kom hulle baie ryker jong mense aan't wal.
Ek weet nie presies hoe die Scouts se program werk nie. Hoe word die span gekies? Waar kom die fondse vandaan? Ensovoorts. Maar dit is ongelooflik. So maak mens mos, Mainlander. Leer die lot spanwerk, dissipline, roetine, deursettingsvermoë en geduld. No instant gratification at sea.
Ons goosewing weer vanaand. Die "wind" is reg van agter - glowaar besig om te swaai van bakboord na stuurboord. Die wolke dreigend; te dicey vir Mzanzi Magic. Die gesegde lui mos: There is old sailors and bold sailors. Not both.

Alex wou weet waaroor gaan die boehaai. Dis mos my broertjie dood hierdie seil konfigurasie. Julle ken mos daai rekspring speletjie waar twee staan en figure-of-eights maak en die ander dans rond. Daai figure-of-eights is jou binnegoed (maag, derms, lewer, niere, hart en longe heen-en-weer, heen-en-weer.) All night long…
Ek sê: "Gaan klim in jou goosewing chamber, Lexi. Middernag kan ons notas uitruil oor slaappatrone, torture methods en dies meer.

Kyk hoe vol is ons pantry nog!!! Alles wat mens benodig😋

UTC+2 12:00 Posisie: 35deg 51.152S 14deg 01.825E
Gem windspoed: knope
Afstand afgelê laaste 24 uur: 126nm
Afstand oor na RCYC, Kaapstad, Mainland, Homeland, Hartland: 246nm

Lekker slaap😎 Mainlander.
Dag 23 (My dae was verkeerd) Span Noorderlig (amper heeltemal)uit.

PS. Ek maak vanaand viskoekies (al kom dit uit 'n blik) op kapokaartappels. Die laaste drie eiers is egter in Fred se koek… Enige idees?

Ahoy Mainlander! Winderige manewales... Daar's net een baas op die see. Sy naam is Wind. Hy dans die heeltyd in sirkels ...
04/03/2020

Ahoy Mainlander!

Winderige manewales...
Daar's net een baas op die see. Sy naam is Wind. Hy dans die heeltyd in sirkels om ons. Kloksgewys met 'n lae druk, anti-kloksgewys met 'n hoë druk. Sy rigting het al 'n paar keer ons rigting dikteer. Nie meer nie. Gister sê Piet, as ek opstaan nà hierdie skof sit ons die finale waypoint in: Mainland. Nou ja, so is dit toe - 091 grade. Reguit huistoe. Dit beteken as die wind nou draai, moet die seile verander. Hoe vinniger ons dit kan doen, hoe vinniger kom ons aan wal.

Die opsies ken julle seker nou al goed. Vir ligter winde (so tot 18knope) van agter, werk die twee Muishonde die beste: 155-175 grade vir Spinnaker Mzanzi Magic; 130-160 grade vir Gennaker Sylvia Polaris. Alles anders word deur Genoa Osaka Japan, Staysail Rolfok en Duitser die Mainsail hanteer. Duitser bly permanent op. Ons verander net die hoek en grootte. Osaka en Rolfok is maklike seile om vinnig uit te laat of in te bring.
Die twee Muishonde het bietjie voorbereidingswerk nodig. Mzanzi meer as Sylvia omdat sy 'n p**l het. Soos 'n kierie om die een been te ondersteun, Mainlander. Die p**l het 'n tou om hom op te hou (uphaul), 'n tou om hom af te hou (downhaul) en 'n tou om sy hoek te beheer (guy). Dan moet die seil self nog 'n lyn op elkeen van sy drie hoeke hê. Soos julle sien, dit vat bietjie tyd en kophou.

Met Cape to Rio moes ons een nag blitsig vir Sylvia terug in die g*t kry toe die wind op loop gaan. Half-uitasem en windverwaaid, liggies natgespat deur 'n los brander, kom ons terug in die cockpit en die stem kom van onder uit die kooi. "Twaalf minute met 'n 4 minute start delay. Nuwe record!" sê die Barones.

Gisteraand hys ons vir Sylvia. Die wind is op 130 grade skuins van agter op bakboord. Ons seil lekker man, tot die wind begin druk-druk na 165. Dis te ver na agter vir haar en julle ken die tantrum. Lippie bewe, skouertjies sak en sy duik vir die see.

Ek en Piet is in die cockpit en ons time wat volg...
Eers alles opstel vir Mzanzi. Die doelwit om so min as moontlik spoed te verloor. Oe, spanwerk moet darem mooi wees as jy dit van buite beskou. Mainlander, stop die horlosie. 21 minute en ons is terug in die cockpit. MAAR Sylvia is terug in haar g*t EN Mzanzi swish-swish happily. EN ons was net 5 minute sonder seil. Twee crew members en natuurlik die foutlose Alice (Alex het vir haar 'n gesig gegee, met Piet se herstelwerk, twee nuwe boute as oë). Barones jy sou trots wees. Fred moet toe natuurlik nog sy fynproewer verstellings maak. Maar dis nou maar eenmaal sy forte en klaar.

So het die wind natuurlik nou weer gaan lê en Gordon begin wonder wat as… Wat as hy uit hierdie halfgebakte pantry nog 'n maal moet opdis. Ek hoor hoe krap Alex sugtend rond daaronder. Verbeelding bring jou net só ver. Sy het egter vandag 'n heerlike rosyntjie brood gebak. More is my b***t vir aandete en my vislyntjie is reeds uit… Ma se Tuna op my wishlist. Foeitog, die hoop beskaam nie.

UTC+2 16:00 Posisie: 36deg 27.317S 12deg 24.146E
Gem windspoed: 7knope
Afstand afgelê laaste 24 uur: 130nm
Afstand oor na RCYC, Kaapstad, Mainland, Homeland, Hartland: 334nm

Groetnis Mainlander.
Dag 19 Span Noorderlig uit

Ahoy liewe Mainlander! "Fred, come quickly,  Louis has no steerage" roep Linda.  Fred kom in die cockpit en Hobie staan ...
03/03/2020

Ahoy liewe Mainlander!

"Fred, come quickly, Louis has no steerage" roep Linda. Fred kom in die cockpit en Hobie staan met sy rug na hom van die verkeerde kant en stuur. Ja, hy bestuur agterstevoor, Mainlander. Hierdie gebeur natuurlik soos alle bootprobleme, donkernag. Fred kon nie sy lag hou toe hy hoor Hobie wou die mainsheet verstel nie. Hy het dus óm die stuurkolom gestap, al sturende, om by die winch op die coachroof by te kom. Planmakertjie. Ek sou graag die insident op video wou hê.

Vanoggend net voor nege (Daglig Mainlander, kan jy glo? Klein genadetjies) hoor ons dit weer. "Piet, come quickly. Fred has no steerage," roep Alex. Hierdie keer is dit egter duidelik waar. Die stuurwiel draai soos vir roulette 360 grade in die rondte. Fred was aan't stuur toe die wind gust na 18 knope. Sylvia vlieg nog, Northern Light begin surf en toe hoor hulle "Snap"…

D**k julle die Muishond wil terug in haar g*t? Die sokkie sit vas. Ek trek, Alex trek en later trek Piet saam, voor Sylvia Pleiades (7+3=10)-Susta Muishond Stoutg*t Huishond Polaris teësinnig terug is in haar g*t. Sal die Mainsail Duitser toe nou ook dwarstrek? Ons kan nie in die wind in draai nie en sy weier om te sak. Met Alex se Flinkd**k-tou-om-die-slide Plan, winch ons haar slide vir slide terug na die boom terwyl Piet en Fred die steering takel.

Gelukkig het Alice nie seergekry nie en al kyk sy nou in 'n ander rigting, bly sy op koers. Die cockpit en saloon lyk soos 'n werkswinkel. Dremel, Boor, Socket stel en skroewedraaiers lê verspreid. Die skuldige: 'n Pennetjie in die stuurkolom veronderstel om te keer dat die wiel verby 'n sekere punt draai. Afgebreek. Dié veroorsaak toe dat die stuurarm onder in die engin kamer te ver beweeg en 'n bout buig. Piet reken dis 'n swak ontwerp. Nuwe g*te is geboor, boute en moere vervang en twee uur later laat waai ons weer. Volgens hom, met 'n sterker plan as van tevore. Ingenieurs... gotta love 'em. Dit was egter benoude oomblikke en volgens Alex was Fred se gesig ook iets wat op film vasgevang moes gewees het.

Tulpie, Piet kook vanaand 'n vegetariese Spaghetti bolognaise met lensies!!!
Tuis is my Pa woes besig met voorbereidings vir die oes môre. Die eerste keer in 17 jaar gaan ek parstyd mis, Mainlander. My Pa was gelukkig van jaar een af betrokke en daar is niemand wat ek met hierdie taak meer vertrou as vir hom nie. Dankie Dad. Twintig-twintig gaan 'n spesiale oesjaar wees.

UTC +2 18:00 Posisie: 37deg 15.907S 10deg 10.260E
Gem windspoed: 15knope
Afstand afgelê laaste 24 uur: 161nm
Afstand oor na RCYC, Kaapstad, Mainland, Homeland, Hartland: 451nm

Ons ruik al die lekker Kaapse bamboes-see, Mainlander.
Dag 19 Span Noorderlig uit

Ahoy liewe Mainlander!Geensins 'n Blou Maandag.  Net na hierdie twee foto's (Een staar na die Ooste, die ander na die We...
02/03/2020

Ahoy liewe Mainlander!

Geensins 'n Blou Maandag. Net na hierdie twee foto's (Een staar na die Ooste, die ander na die Weste), ses dertig vanoggend, het 'n skool dolfyne kom groet. Ons het net 'n video geneem van hulle en kry dit nie reg om 'n raampie te vries en as foto vir julle te stuur nie. Julle moet help asb, ons is sooo nuuskierig. Kan ek julle Google op beskrywing?
Hulle is baie donkergrys van kleur. Daar was verskillende groottes, maar een by die boot was tussen 4 en 5 m groot. Hulle het hoorbare fluitgeluidjies bo die oppervlak gemaak. Ek het dit nog nooit voorheen gesien nie Mainlander, hulle het stompneuse soos Pacman. Hulle swem nes dolfyne, maar wanneer hulle duik, bly die stertvin soms in die lug en dit lyk presies soos dié van 'n walvis.

Liezel het weer van die FB kommentaar aangestuur en onder andere Juffrou Helena Slabbert s'n. Kan jy glo, sy was my huishoudkunde juffrou in Jansenville St6 en 7. Ek d**k ek moes drie keer my h**p se kraag, en die boordjies oordoen. Twee kosmaaklesse staan kop bo water bo die res uit. Ons het een dag 'n tjop op papier afgetrys, gaargemaak en toe weer afgetrys. Ek d**k dit was 30% volume verlies? Op 'n ander dag het ons leer witsous maak. Dit het vandag weer handig te pas gekom. Wanneer laas het julle Maltabella pap probeer maak? Kyk, daai klonte tart jou!! Maar maak hom soos 'n witsous en jou crew d**k jy's Moeder Teresa.
Sien, nou loop my gedagtes ook terug na heerlike naweke op die plaas, van perdry saam met Marnè, Angora hanslammertjies voer, askoek eet by die volkies, vingerbord op daai breë stoep van julle, stap in die kloof na die Waterval, die witkruisarend, koedoes jag en daai wonderlike plaaskombuis. Dankie juffrou vir ongelooflike herinneringe.

Ons het Mzanzi heelnag gevlieg. Die wind was aanvanklik taamlik wispelturig. Sy gooi skouer skuins, fladder en vou weer oop, gooi skouer skuins, fladder en vou weer oop. My opdrag: Hou daai skouers regop; hou die hoek (TWA True Wind Angle) min of meer 150 grade. So ek sit agter by Alice en speel klavier. Twee grade op, vyf grade af. Die ding is, Piet wil graag hê ons moet nou reg oos seil. Met variasie ingereken is dit 113 grade magneties. Dit is ook waarop Alice gestel is. Dit vat my ten minste 20 minute om op die perfekte Mzanzi rigting van 123 grade te kom. Die baba is tevrede, vetpensie-dikgevreet-vooruitgesteek, swish-swish ons voort. Northern Light spin soos 'n kat. Nie net omdat Mzanzi so gelukkig is nie, maar ook die gesnork van die crew.

Die sterre is melange. 'n Gaaslap vol lig. Dis Karoonag koud. Ek het twee thermal vessies, 'n fleece top, foul weather gear, balaklava EN mus en dik handskoene aan. Nou't ek tyd. Ek tob. Die Engelse praat van "ponder" en dit klink vir my minder ernstig, meer van pas. Jy weet, filosofeer bietjie.
Soms is my gemoed ongemaklik. So asof die laaie in my kop deurmekaar gekrap is -'n "spring clean" benodig. Alex, sê ek is over-the-top-perfeksionisties. OCD amper. Ek weet sy's reg, in elk geval tot 'n mate. Waar kom dit vandaan? Hierdie beheers beheptheid? Hoe tem jy die Calvinistiese dier? Alles net reg; net reg vir my? Balans; onderskeid tussen gewig en te lig. Innerlike vrede en harmonie, onafhanklik van omstandighede, onafhanklik van die voet waarmee jy uit die bed klim. Salig is 'n amper-raak beskrywing, maar ek is gewoonlik salig. As alles perfek is… Saligheid onder druk, saligheid al werk dinge nie lekker nie. Jy weet, soos water op 'n swaan se rug. Alles behalwe 'n "I don't care" houd**kie hoor. Net 'n meer gemaklike vreedsame wese. Gematigde temperament sou jy so 'n perd beskryf. Dis wat ek soek.
En ek sal ook maar moet aanhou soek, want toe's die skof verby. Piet verander die heading terug na 112 en Mzanzi gooi skouers skeef en duik af see toe.
Regstelling: Die Noorderlig span reken ek het 'n wanindruk gemaak. Ons was wél as ons nie stort nie, hoor. Koue, boereskottel was, maar tog wel.

Dankie aan al die Voet-aan-wal 🐕 voorspelling deelnemers. Julle is yster. Wassie het verbied dat ons enige verdere inligting aan boord mag kry; vir ingeval manupilasie aantygings gemaak sou word.

UTC +2 18:00 Posisie: 37 deg 33.781 06 deg 54.369E
Gem windspoed: 11 knope
Afstand afgelê laaste 24 uur: 149 nm
Afstand oor na RCYC, Kaapstad, Mainland, Homeland, Hartland: 603 nm

Geniet die week Mainlander. Luister weer 'n slag "You can't always get what you want" - Rolling Stones
Dag 18 Span Noorderlig uit

Liewe Mainlander, Die vrieskas is leeg.  Dit was my kookb***t gisteraand en ek het Brazilian Fillet steak van gister af ...
02/03/2020

Liewe Mainlander,

Die vrieskas is leeg. Dit was my kookb***t gisteraand en ek het Brazilian Fillet steak van gister af in kerrie en yoghurt gemarineer, hoor. Ma se appelkoos chutney en Piet se Glenfiddich whiskey en ons "laaste maal" was awesome. Van vandag af eet ons blikke en bottels. Om dit heerlik te maak is daar egter nog vars tamaties, uie, butternut, salami, kaas. Jip, meer uitdagend, maar Gordon het reeds gesê hy is opgewonde oor sy volgende dis.

Ons het erg gesukkel met wind die laaste dag of wat. Op die oomblik steeds net 6 knope wind en 4.3 bootspoed, maar Mzanzi Magic vlieg trots. Ons hoop sy kan ons al die pad huistoe bring. Jammer oor die min nuus, maar kerrie kook is tydrowend hoor!

UTC +2 18:00 Posisie: 37 deg 28.560 Suid 03 deg 47.236 E
Gem windspoed: 4knope
Afstand afgele laasste 24 uur: 80 nm
Afstand oor na RCYC, Kaapstad, Mainland, Homeland, Hartland: 744.8 nm

Dag 18 Span Noorderlig uit.

Liewe Mainlander, Vandag was ons eerste warm stort sedert die 5de Februarie in die hotel in Rio.  Dis 'n regte Kraanoop-...
01/03/2020

Liewe Mainlander,

Vandag was ons eerste warm stort sedert die 5de Februarie in die hotel in Rio. Dis 'n regte Kraanoop-kraantoe-seepsmeer-kraanoop-afspoel-kaapse stort, maar tisk, tisk Mainlander. Lafenis. Dit strek verder as die fisiese. Ons sal moet kyk na die oorsprong van die woord. In my geestesoog sien ek jou binnekoms na 'n kaggelvuur vanuit 'n koue nag. Ek sien 'n duiker insak in die Atlanties na 'n Hangklip lighuis stap. Ek sien 'n koue bier in 'n Karoo hotel op 'n reguitpad-roadtrip. Dit doen aan die siel wat gister se warm son op 'n koue Suid Atlantiese vel gedoen het. Lekkerderste lekker lafenis.

Ongeveer 20:42 gisteraand word hierdie Westerling matroosspan weer Oosterlinge. 'n Heuglike oomblik, sermonieel gevier met Sailor Jerry Rum. "Known the world over for solid, bright, neat tattooing"??? Neptune kry sy deel in die Ooste sowel as die Weste en word bedank vir ons veiligheid tot dusver. Die mees belangrike deel van die seremonie is natuurlik om self 'n paar diep teue uit die bottle te nuttig. (Ek het die bottel gaan uithaal om die storie te lees, toe maak ons maar gou weer keeltjie nat…)

Gisteraand het ons lekker geseil - tot 9 knope. Vandag, op die randjie van die hoog se oog. Windspoed 2-4 knope; bootspoed 2-3knope (lekker 2 knope stroom). Kan julle glo die sonvis het ons verbygesteek!!!! As ons diesel gehad het, het ons nou laat loep hoor. Piet sê die wind kom 21:00.
Die hingsperd is vandag so mak soos 'n lammetjie. Die stuurwiel staan doodstil. Alice ontspan. "Alice?" vra ek. "Ja, " sê sy. "Kan my suit swaanvere hê?" "Ja" sê sy en glimlag. Vir die eerste keer maak my suit vir haar ook sin.

UTC +2 18:00 Posisie: 37 deg 28.109 Suid 02 deg 08,768 OOSS!!!!! En dit beteken ook ons is nog 'n uur nader aan julle. Net 'n uur om te gaan.
Gem windspoed: 8knope
Afstand afgelê laaste 24 uur: 125 nm
Afstand oor na RCYC, Kaapstad, Mainland, Homeland, Hartland: 821 nm

Geniet die res van die naweek, Mainlander!
Dag 17 Span Noorderlig uit

Address

Duncan Road
Woodstock
8000

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when SV Northern Light posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share