07/09/2026
Vanaf Wolseley Rugby Klub:
Huldeblyk aan ’n Jong Speler – ’n Ware Wolseley Boy
Met groot hartseer en ongeloof neem Wolseley RVK afskeid van ’n jong speler en spanmaat wat op ’n tragiese en ondenkbare wyse uit ons midde weggeneem is.
Ons klub, bestuur, afrigters en veral sy spanmaats is diep geraak en gebroke oor hierdie groot verlies. Dit is moeilik om te aanvaar dat ’n jong lewe, vol drome, energie en liefde vir sport, so skielik van ons weggeneem is.
Hy was nie net ’n speler nie – hy was ’n spanmaat, ’n vriend en ’n ware Wolseley Boy. Sy rugbytrui, met die nommer 9 op sy rug, het vir hom ’n besondere betekenis gehad. Hy het gevoel daardie nommer is syne, en hy was vasberade om homself te bewys as een van die bestes in daardie posisie. Hy het met trots die Wolseley-kleure gedra en altyd met passie sy liefde vir rugby uitgeleef.
Ons sal hom onthou vir sy goeie sportmanskap, sy gewilligheid om te help, sy vriendelikheid, sy positiewe geaardheid en sy mooi persoonlikheid. Sy teenwoordigheid op en langs die veld het ’n verskil gemaak, en sy bydrae tot ons klub en tot goeie sportmanskap sal nooit vergeet word nie.
Die leë plek wat hy agterlaat, sal diep gevoel word. Elke keer wanneer die Wolseley-trui aangetrek word en die nommer 9 op die veld verskyn, sal ons aan hom d**k en onthou hoe baie daardie trui vir hom beteken het.
Ons wil hê sy familie moet weet dat hulle nie alleen deur hierdie moeilike tyd gaan nie. Wolseley RVK staan saam met julle in hierdie hartseer. Ons deel in julle pyn en bid dat God julle krag, troos en vrede sal gee.
Hy het vir sport geleef. Hy was altyd betrokke, altyd bereid om deel te wees en altyd trots om as ’n Woela Boy bekend te staan.
Hy is dalk nie meer fisies by ons nie, maar sy naam, sy glimlag, sy passie en sy liefde vir rugby sal voortleef.
Hy sal lank, baie lank, in die harte van sy spanmaats, vriende, familie en die hele Wolseley-gemeenskap leef.
Rus sag, kampioen.
Die Wolseley-trui sal jou naam altyd dra.
Eenmaal ’n Woela Boy, altyd ’n Woela Boy. 🕊️🏉💙🤍
Van die bestuur, spelers, afrigters en hele Wolseley RVK-familie:
Ons sal jou mis. Ons sal jou onthou. Ons sal jou nooit vergeet nie. Net n troops vers “Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word.”
— Matteus 5:4