26/03/2020
Gebed vir Suid-Afrika 26 Maart 2020
Here, in ‘n tyd wat ons regtig ten goede gestroop word van alles waaraan ons verslaaf en verknog is, is ons opgewonde en my verwagting werklik dat U ons denke en ons harte, ons verhoudings en selfs natuur gaan vernuwe. En daarom wil ons met dolleë hande saam met Paulus sê: “Wat eers vir my ‘n bate was, is nou waardeloos.” Wat voorheen my besig gehou of vir my betekenis en sekuriteit gegee het of my identiteit bepaal het, is niks, want "al wat ek wens, is om U te ken!"
"Ek wil die krag van U opstanding ondervind en ek wil deel hê aan U lyding deur aan U gelyk te word in U dood." Ek kan nie help om die tydsberekening raak te sien dat juis met die viering van U kruisdood en opstanding U ons so bietjie eenkant in stilte vir Uself het nie…
Dankie dat U selfs in isolasie, Immanuel - God met ons - is. Dankie dat dieselfde krag wat U uit die dood uit opgewek het, in ons woon deur U Gees! ‘n Gees wat ons ook vul met liefde en selfbeheersing, dapperheid en ‘n hart wat aanhou omgee vir ons naaste al daardie "naaste" nou so bietjie verder van ons af…
Dankie vir hulle wat geen afstand behou om ons siekes, weerlose bejaardes en honger kinders steeds te versorg in hierdie tyd nie. Dankie vir U besonderse nabyheid aan elkeen van hulle en dankie dat ons met ‘n vrymoedigheid kan uitroep na ons Goeie Vader om asseblief ons land en sy mense te beskerm, op te pas en veilig te bewaar, want ons weet waar ons hulp en Hoop vandaan kom.
Mag ons U genade wat bereid was om ter wille van ons arm te word soos nog nooit vantevore leer ken nie sodat ons ten spyte van verlies en tekort in sekere areas, ryker sal wees in alle opsigte, maar bo alles en in besonder aan ons liefde vir U en ons liefde vir ons medemens.
Amen