17/05/2018
DRUPPEL VIR DUUR DRUPPEL - NOU OOK VIR MOTORS!
Die 2018 RFS Auto Motorfietsbesparingsrit gaan hierdie jaar ook vir motors toeganklik wees!
Die sukses van die RFS Motorfietsbesparingsrit oor die afgelope 37 jaar het veroorsaak dat daar meer en meer motor-entoesiaste is wat versoek het dat die organiseerders ook motors in die byeenkoms moet toelaat.
Indien alles goed verloop en daar genoeg belangstelling is gaan motors ook hierdie jaar tydens die 38ste byeenkoms wat op 24/25 Augustus 2018 deur Pretoria Motorklub gereël word, deelneem.
Daar sal soos gewoonlik ongeveer 50 motorfietsjaers wees wat hul vermoeëns om so min moontlik brandstof te gebruik, teen mekaar opweeg. Die organiseerders het besluit om ‘n beperkte aantal standaard passasiers voertuie - petrol en diesel aangedrewe hierby toe te laat.
Die motorfietse sal soos gebruiklik in hul verskillende klasse meeding, terwyl die inskrywings vir motors nie direk teen mekaar gaan meeding nie, maar eerder teen hulself - of dan liewer poog om brandstofverbruiksyfers waarop die vervaardigers aanspraak maak, te bewys of te verbeter.
Privaat - sowel as inskrywings van vervaardigers en handellaars sal aanvaar word.
Dit gaan uit die aard van die saak in die vervaardigers se belang wees om voertuie in te skryf wat onder gekontrolleerde omstandighede deelneem en sodoende te kan bewys wat hul produk se brandstofverbruik werklik is.
Alhoewel daar ‘n paar fyner reëls vir motorvoertuie neergelê sal word, is die belangrikste dat die voertuig, ongeag die jaar van vervaardiging, absoluut standaard moet wees. Geen fieterjasies wat branstofverbruik sal beinvloed, wat nie standaard op,die voertuig is, sal toegelaat word nie.
Indien daar ‘n groot genoeg aanvraag deur byvoorbeeld vervaardigers en installeerders van rekenaar skyfies (chips) is om deel te neem, sal dié deelname in ‘n spesiale klas geskied. Die publiek sal dan ook kan sien of hierdie veranderings werklik die moeite werd is, wat brandstofverbruik betref,
Die RFS Auto Brandstofbesparingsrit sal hierdie jaar op 24/25 Augustus plaasvind en die roete gaan van die nuwe Rallystar Motorsport Akademie by die Sun Carousel buite Pretoria begin en sal weer soos ‘n paar keer in die verlede by die Numbi Hotel op Hazeyview eindig.
Hierdie uiters gewilde byeenkoms sal met die toevoeging van motors selfs meer gewild onder die hele gesin wees en word vir die 12 de agtereenvolgende jaar deur RFS AUTO geborg.
Meer inligting oor inskrywings kan bekom word deur Francois Jordaan te kontak op 0825549443 of ‘n epos te stuur aan [email protected]