09/07/2025
By Aquazone Swem Akademie glo ons dat swem meer is as net sport, dit is ‘n lewensvaardigheid wat selfvertroue, selfdissipline en uithouvermoë kweek.
Ons het ’n span goed opgeleide afrigters wat weet wat hulle doen en jou kind leer swem terwyl hulle saam baie pret in die water het. Swem is ook ‘n vaardigheid wat jou kind se lewe kan red!
En kyk nou net... ses swemmers wat ‘n deel van hul swemloopbaan hier by ons voltooi het, spog met groot prestasies!
Tydens die Super 12 Laerskole kompetisie wat in Oktober 2024 plaasgevind het, het ses kranige meisies van Laerskool Mooirivier se swemspan hul skool en gemeenskap trots gemaak met hul puik vertoning in die water. In 2023 is die rekord wat al vanaf 2006 deur Laerskool Pietersburg-Oos gehou was, met byna 2 sekondes verbeter deur die dogters-aflosspan van Tokkies, en in 2024 het hulle weer hulle eie rekord gebreek. Wat ‘n uitstaande prestasie! (Die spanlede van die twee onderskeie jare, verskil hier en daar).
Die item waarin hulle deelgeneem het is die ouderdomsleër 6 x 25 meter vryslag aflos, wat deel is van die Super 12 Laerskole kompetisie se swemafdeling. Die span is saamgestel uit die ses sterkste Tokkie meisieswemmers van Graad 2 tot Graad 7 en die swemmers wat bygedra het tot hierdie uitmuntende prestasie in 2024 is Leva Meiring, Millay de K**k, Skye Taute, Jua Jonker, Mienke Rutherford en Irma Kotze
Laerskool Mooirivier se meisieswemspan was vir sewe jaar lank Super 12 wenners en is volgens Zoli de K**k, die skool se swemkoördineerder baie sterk swemmers. Al hierdie swemmers het as jong dogtertjies hulle swemloopbane by Aquazone Swem Adademie, onder die bekwame hand van Zoli en gekwalifiseerde afrigters begin, en is ook tans lede van die Potchefstroom Swemklub waar die bekwame Marike van Oordt hul afrigter is.
Swem is ‘n sport waarin kinders as individue, sowel as in spanformaat kan deelneem. Dit vereis baie selfdissipline van die kind, met baie ure se toegewyde oefening. Zoli sê dit leer die kinders om op ‘n gesonde wyse te kompeteer, bevorder goeie gesondheid, is goed vir stresverligting en verbeter akademiese prestasie. In kort, dit kweek goed gebalanseerde jong individue!
Die Super 12 Laerskole kompetisie vind jaarliks plaas en spog met 24 Top Laerskole vanuit 4 noordelike provinsies wat deelneem. Laerskool Mooirivier is die enigste skool van Potchefstroom wat aan hierdie prestige kompetisie deelneem. Die kompetisie bestaan uit 14 aktiwiteite, naamlik Atletiek, Gholf, Hokkie, Krieket, Landloop, Netbal, Rugby, Skaak, Swem, Tennis, Algemene Kennis, Bybelvasvra, Koor en Redenaars. Dit bied geleentheid vir kinders met uiteenlopende belangstellings en talent om hul slag te wys en tot hul volle reg te kom.
Weereens, welgedaan dogters. Mag julle swem, en so ook al julle ander aktiwiteite op sport en kulturele gebied van krag tot krag gaan!