26/08/2025
Menlo Perdesport besoek Rooigras Boerperdstoet
Ons Menlo Perdesportspan het onlangs die voorreg gehad om Rooigras Boerperdstoet te besoek - 'n uitstappie wat nie net leersaam was nie, maar ook terdeë geniet is deur al ons ruiters en hul ouers.
Rooigras Stoet geleë op 'n pragtige plaas net buite Bronkhorstspruit, is in 2004 gestig deur Jan en Christelle Joubert. Die toonaangewende stoet het oor die jare 'n uitstekende reputasie opgebou vir hul toewyding aan die SA Boerperd en ontvang verskeie toekennings, insluitend die SA Stamboek Elite Perdestoet van die Jaar in 2022. Die stoet is bekend vir hul kampioenperde en die bevordering van die SA Boerperd; 'n ras wat trots Suid-Afrikaans is.
Wat hierdie stoet van ongeveer 150 perde nog meer besonders maak, is dat dit 'n ware familie-onderneming is. Kristen en Mia, die Joubert dogters, is betrokke by die stoet en dra by tot die sukses van hul perde in kompetisies en teling.
Die besoek het ons ruiters en ouers waardevolle insig gegee in die daaglikse bestuur van 'n stoet, die versorging van perde en die belangrikheid van goeie telingstandaarde. Ons het ook meer geleer oor die geskiedenis en unieke eienskappe van die SA Boerperd, wat 'n integrale deel van ons land se kultuur en landbou-erfenis vorm.
‘n Paar interessante feite oor die SA Boerperd:
• Die SA Boerperd is die enigste suiwer inheemse perderas van Suid-Afrika en het ontstaan uit 'n mengsel van rasse wat reeds in die 1600’s na die Kaap gebring is.
• Hierdie perde is bekend vir hul uithouvermoë, gehardheid en uitstekende temperament, wat hulle ideaal maak vir beide werk en sport.
• Hulle kan tot vyf verskillende gange (gaits) aanleer: stap, draf, galop, kortgang en trippel - iets wat min rasse kan doen!
Ons opregte dank aan Jan, Christelle en Mia Joubert, asook die hele Rooigrasspan, vir jul gasvryheid en die wonderlike dag wat ons op jul prag plaas kon deurbring. Julle passie vir perde, ruiters en die bereidwilligheid om jul tyd en kennis met ons te deel is van onskatbare waarde!
Dankie vir ‘n heerlike dag vol opwinding en inspirasie! Ons wil nou nie die kar voor die perde span nie, maar ons mag seker noem dat ons reeds uitsien na ons volgende besoek!