22/01/2025
Veral in vandag se gejaagde lewe is ons maar al te bewus van al die stertjies wat saam met die lewenstyl gaan, angs, paniek, stres, buierigheid, onvriendelikheid en soms sommer net onredelikheid.
Vanoggend het ek ‘n gejaagde, uitgerekte oomblik gehad, so by so dat ek my eie medisyne op myself moes toepas.
Op pad na ‘n BNI vergadering wat stiptelik om 08h00 begin in Tokai, Kaapstad, en ja, ek het net na 06h00 gery uit Durbanville, om seker te maak ek is betyds! Wat toe nie gebeur het nie! As ek nie van beter geweet het nie, kon ek sweer die verkeer was vanoggend aspris stadig en moeilik, net om te kyk of ek nog op “track” is met my doelwit en gewoonte om minder opgewerk te raak.
Google maps wys my daarop dat ek ten minste 15-minute laat gaan wees vir my afspraak, iets wat nie lekker in my broek sit nie.
“Haal asem suster, haal asem”!
Help nie jy werk jouself nou op oor iets buite jou beheer nie. Ek haal maar diep asem, maag diep, en trap die petrol wanneer ek kans kry.
Bereik my bestemming 16min laat en sukkel nog 3min om parkering te kry, gryp my handsak en storm die gebou binne, reg in die middel van ‘n voorlegging, 30 mense se oë almal op my gerig.
Haal asem, maagdiep, 1, 2,3,4
‘n Mooierige man spring op, wys my my sitplek aan en vra dat ek myself aan almal voorstel, ek het 60 sekondes. Kalm bly, 60 sekondes gaan vinnig verby.
Die res van die oggend het glad verloop, na afloop kom ‘n meisie na my toe en vertel vir my hoe sy hou van my kalm voorkoms en kalm manier van praat. Dit het haar rustig gemaak.
Motto van die storie, dit help nie ons werk ons self op oor gebeure buite ons beheer nie, ons kan net ons beste doen en kalm probeer bly.
Al wat ek in hierdie situasie kon hanteer was my gedagtes en my houding, ten spyte daarvan dit soms wou neig na rondomtalie draai.
Moenie so hard op jouself wees nie, dis okey om te aanvaar dat jy nie alles kan beheer nie,.
Fokus op wat jy wel kan beheer.
Werk sagkens met jouself, jy is kosbaar!